BB is `n trots Suid-Afrikaanse duitssprekende sanger / liedjieskrywer gebore en getoë in Namibië en Pretoria wat liedjies in Afrikaans en Engels asook Duits skryf en toonset. "My doel is altyd om `n goeie, sterk en inspirerende boodskap deur middel van lirieke en klank oor te dra en my wens is dat my werk meer as slegs vermaak is, maar ook as inspirasie en motivering sal dien".
Sy het onlangs een van haar gunsteling Afrikaanse liedjies in Engels vertaal en opgeneem. Koos Kombuis (die skrywer van "Lisa se Klavier") het van BB se weergawe gesê dat dit so mooi is, dat toe hy dit die eerste keer in sy motor geluister het, hy skoon verdwaal het op 'n pad wat hy gereeld ry.
BB se leuse is "Die gras is altyd groener waar jy dit water gee"
Sy het die vermoë om lirieke en liedjies op opdrag te skryf. Sy skryf onder andere verpersoonlike liedjies vir troues, verjaarsdae en spesiale okkasies. Sy noem al haar liedjies haar `baba's` en sien die proses van begin tot einde in dieselfde lig as wat verwagtende moeders die aankoms van hulle eersteling afwag.
In 2006 is twee van haar oorspronklike Engelse liedjies in `n internasionale liedjieskrywer kompetisie ingeskryf waartydens een eervolle vermelding ontvang het en die ander `n naaswennerposisie behaal het.
BB gee nederig erkenning daaraan dat haar talent "not of my own making" is en sê dat dit "`n sonde is om nie die geleentheid te gryp as 'n liedjie verbykom". "`n Liedjie kom in baie gedaantes. `n Kind. Die wind. `n Vreemdeling se oë. Sonlig, skadu, nag, seisoene. Vriendskap. Ja, en liefde, natuurlik".
Haar liedjies word ook deur ander mense se vreugdes, hartseer en versugtinge geïnspireer. Sy het `n passie vir die geskenk van woorde, toegedraai in `n paar note en dra dit oor met `n opregte ongeveinsde stem wat jou laat dink: "Ek kon dit geskryf het".
BB het 4 kinders - en alhoewel almal nie biologies haar eie is nie, is hulle in haar oë "aan my geleen deur God". Sy sê dat sy `n beplande lewe lei - en glo dat solank as wat sy in die wil van God beweeg, sy altyd op die regte tyd en plek sal wees om haar lewensdoel te dien.