HOME
LYRICS
SONGS
PHOTOS
LINKS
PROFILE

 

 

UITNODIGINGS VIR ’N KOMBUISTEE

 

Voel vry om enige een van onderstaande te gebruik – vervang die name soos nodig en voila!!!

 

1. (Daar word gevra dat die gaste kruideniersware of geskenkbewyse sal gee)

 

Die troukoors het Maritza beet

dus nooi ons almal uit –

om haar te groet voor sy ‘Marx’ heet

vir haar kombuistee-joligheid!

 

Nou sal jy wonder en dalk raai

“wat kan ek tog vir haar toedraai“?

Maar voor jy dalk daarop aandring

om blink gereedskap saam te bring,

wil ons dan hiermee graag onthul

dat ons graag haar koskas wil vul -

Dus, ertjies, mielies, tuna, bone;

of kondensmelk om ’n doodgewone

koek in ’n feestelikheid te omskep -

of jou idee vir ’n blik-kos-resep...

die ander voorstel op ons lys:

’n koevertjie met ’n geskenkbewys.

 

 

2.(Die ’Toegangsfooi’ vir hierdie uitnodiging is ’n skoonmaakmiddel in ’n vadoek toegedraai)

 

Janine het uiteind’lik “JA” gesê

toe Heinrich vra of sy hom wil hê.

Nou gaan ons dit behoorlik vier

En hoop jul deel in die feesplesier!

Sussies, Aanneem-ma en maatjies

Kuier, giggel en huweliks-praatjies...

Behalwe jou geskenkie vra ons ook mooi

Vir die volgende klein toegangsfooi:

Gryp ’n vadoek en drapeer dit slim

Om ‘n bottel Handy Andy of Mr Min,

Skottelgoedseep of politoer

Vir skitterblink glase, spieëls en vloer

Om die nuwe mevrou se verveligste taak

Net soveel meer die moeite werd te maak.

 

(Maar hóé sy dit doen sal wel bepaal

Of sy ooit “vonkelvrou/poetsvrou-van-die-jaar” gaan haal?!)

 

 

3. (Enige geskenk is welkom – maar die ’Toegangsfooi’ kry deesdae geweldige aftrek – en dis ’n wonderlike idee... en as die partytjie suksesvol is, kry die bruid dalk ’n hele jaar se skoonmaakmiddels – WHOPEE!! - ...julle moet bietjie bederf-dingetjies oorweeg! Ek wonder maar net wat het geword van badsout, olie, roompies en al daardie dinge waar ons girls later maar die trollie verbystuur op pad na die volgende vervelige ou winkelrak met ’moets’?? – hoeookal – hier gaat ons...)

 

 

Rochelle het die ’ja-woord’ vir Christo gegee!

Nou wonder ons almal: wat bedoel sy daarmee?

“Ja, jy kan jou seëninge tel?!“

“Ja, ek is mos deur jou persoonlik bestel?! “

“Ja, ek sal agter jou klere optel??!! “

of “Ja, ek sal jou liefhê! Alhoewel.... “

...O aarde, na so ’n grootse besluit

En die reël van die datum ,die plek en tyd

Kan ’n bruid nie vir beter vriendinne vra

As hulle wat haar reeds op hul hande dra.

Bring dus jou glimlag, goeie geselskap en raad

En dalk ’n noodsaaklike kombuisapparaat?!

Vir die toegang sal jy met ’n resep moet betaal

Of ’n skoonmaakmiddel of blik-kos uit jou kas loop haal -

Draai dit liefderyk toe in ’n vadoek of lap

En voeg ’n belofte-tjie daarby van jou susterskap!

 

 

4. (Daar word gevra vir ’n geldelike bydrae – mens is amper versigtig as dit kom by ’geld vra’ – baie mense voel dis erg onpersoonlik, maar daar is tonne oorspronklike maniere om dit te gee – speld dit aan vadoeke vas – maak ’n ’pop’ uit sponse en goldi-locks en trek vir die dingetjie geld-klere aan – maak ’n R10 of R20 ’ruiker’ – ag gee tog maar die verbeelding vrye teuels – en máák dit persoonlik – onthou tog ook om ’n handgeskrewe kaartjie of nota aan te heg – die gasvrou kan ’n spesiale houer vir al die troukaartjies en kombuistee se boodskappies byderhand hou - en sit die geldjie/koeverte solank daarin – met ’n aanduiding wat die houer se doel is.) Maak klein visitekaartjies en vra elkeen op die kombuistee om haar leuse vir ’n gesonde / gelukkige huwelik daarop neer te pen – sit dit ook in die houer. ’n Ander oulike idee is dat die bruid dan elkeen se leuse of ’motto’ moet voorlees en raai wie s’n dit is waarna die persoon se naam dan eers agterop geskryf word.

 

Die liefde het geen prys of waarde

Geen geld kan op die ganse aarde

Vir groter hartsgeluk betaal

As dit wat uit ’n bruidspaar straal

Dit maak nie saak wat jy bydra

Maar hiermee wil ons vriend’lik vra

Dat dit wat jy dan sou bestee

Jy eerder in ‘n koevertjie gee -

Met ’n spesiale persoonlike boodskap daarby

wat …bruid…en …bruidegom…nét by jou sal kry.

 

(Vervang …bruid…en …bruidegom…met die name)

 

 

5. Uitnodiging vir ’n “Rum“-party/Bachelor’s (Ken iemand die Afrikaanse woord hiervoor??)

 

Elke dag bring sy eie weer

Die huwelik sal dit ook leer

Sodat Christo dit mooi verstaan

Sal ons hom dus nou moet vermaan

:

Kry Rochelle’tjie nuwe klere

Is daar sonskyn-atmosfere;

Wil hy nie inkopies doen

Sal hy met reënweer moet versoen;

Gaan hy kuier met die pelle

Styg orkaan-sikloon-tabelle;

Onder weerlig sal hy steier

As hy dalk te lekker kuier!

Soos dit ons manne maar betaam

Staan ons altyd bankvas saam

En gee ons hom sy laaste ’maal’

Om álles moontlik uit te haal!

Bring jou doppie en jou tjoppie

(en ’n pynpil vir jou koppie)

kom kuier saam en vier “dié man“

tot jou ‘weerburo’ sê jy moet huistoe gaan!!